Laurik International
Die Boere in vandag se Argentinië
Die wonderlike geskiedenis en hede van 'n merkwaardige gemeenskap100 jaar Boere in Argentinië: 1902 - 2002
Oorspronklike navorsing, teks en samestelling deur Jerónimo Ignacio Pino Coviello - 'n Argentyn wat uit belangstelling vir Afrikaans dié taal bemeester het en aangepas deur Hendrik Jordaan wat reeds vir die afgelope 10 jaar in Argentinië woon vir publikasie op Laurik International se webwerf.
Afrikaners in Suid-Argentinië
Daar was altyd 'n besonderse verwantskap tussen Argentinië en Suider Afrika. Aan die begin van die twintigste eeu het Argentinië 'n beleid gehad om die Argentynse grondgebied te bevolk. Die Argentynse landbouminister Dr Wenceslao Escalante was die persoon wat die boerevolksplanting in Argentinië bevorder het.
Met die einde van die Anglo-Boereoorlog was Julio A. Roca, van Tucumán, president van Argentinië. 'n Aansienlike aantal boere het na die oorlog besluit om na ander lande te emigreer.
Verskeie families emigreer na Argentinië vir 'n belangrike rede: die Suid-Afrikaanse hoogvlakte van die Klein en Groot Karoo en die Argentynse hoogvlakte van Patagonië (Patagonia) vertoon baie ooreenkomste en albei gebiede is geskik vir skaapteelt. Afvaardigings van Argentynse amptenare het na Suid-Afrika gegaan om die Argentynse grond vir die belangstellende boere aan te bied.
Van die eerste groepe wat Argentinië gekies het was die families Visser, Dolten, Behr en De Merillad. In April 1902 het hulle voet op Argentynse bodem gesit. Hulle het eers na Buenos Aires gegaan en ná dit het hulle na Comodoro Rivadavia gereis. Comodoro Rivadavia, naby die stad Sarmiento, is 'n hawe wat ontwikkel het a.g.v. die ontdekking van aardolie. Dié belangrike gebeurtenis is in baie koerante van Buenos Aires opgeteken; die eerste 7 families, op 3 Junie van dieselfde jaar...
Dit sou die "Colonia Bóer" vorm.
Nuwe immmigrante
In 1903 het byna 100 ander mense in Suid-Afrika ook besluit om na Argentinië te emigreer na die goeie nuus van die Afrikaners in Argentinië verneem het. In November 1905 kry Argentinië meer Afrikaners; die derde groep bestaan uit 300 mense. Twee jare later besef die Argentynse regering dat die boerderygrond in die Chubut-gebied groter geword het vanweë die aansienlike aantal Boere in Sarmiento. In 1910 en 1920 gaan 'n groep Afrikaners egter terug na Suid-Afrika met die stigting van die "Unie van Suid-Afrika". Hierdie nuwe staat het meer outonomie gehad as toe dit 'n Britse kolonie was.
Party familiename wat ons deesdae in Comodoro Rivadavia en Sarmiento kan vind is onder andere Myburg, Trichardt, Visser, de Bruyn, Ellof/Eloff, Botha, Norval, Vorster, Dekker, Grombeeck, Blackie, Venter, Lubbe en Kruger.
Die
huidige Boere se lewe in Argentinië
Comodoro Rivadavia is die Suid-Afrikaanse gemeenskap se belangrikste plek. Sarmiento, Rada Tilly en op die platteland naby hierdie stede bly verskeie ander Boere. Sierra Chaira, baie ver van enige stad, noordelik van Sarmiento - wat Staalberg in Afrikaans is - is die plek waar die BoereSports elke jaar gevier word. Die mense wat ouer is as 45-50 jaar, praat nog vlot Afrikaans; die jonges praat dit nie meer nie, maar die meerderheid verstaan dit. Hulle praat ook almal Spaans, maar geeneen van hulle het Engels as huistaal nie. Niemand in Argentinië praat Engels in die huis nie. Indien ons Engels leer, is dit as 'n buitelandse taal.
Hierdie gemeenskap is in die Chubut provinsie, in die groot dorslandgebied wat Patagonië genoem word, 'n gebied baie ryk aan die petroleum. Die Suid-Afrikaners wat hier die petroleum gevind het, was eintlik besig om water te soek, maar vind toe onverwags hierdie belangrike en kosbare hulpbron. Deesdae is Comodoro Rivadavia die belangrikste petrolgebied in Argentinië, asook in die hele suidelike deel van Suid-Amerika.
Die
Suid-Afrikaanse-Argentynse Monument
Die Suid Afrikaanse-Argentynse Monument in die stad van Comodoro Rivadavia wat die 100 jaar van die Boere Gemeenskap in Argentinië herdenk is in 2002 gebou.
Op dieselfde monument staan die vanne gekerf van Boere wat ná die Anglo-Boereoorlog hiernatoe geëmigreer het, byvoorbeeld, Van der Merwe, Viviers, Kruger, Van Wyk, Visser, Naudé, Van der Walt, Blackie, Botha, Van der Linde, De Bruyn, Joubert, Vorster, Snyman, Du Plessis, Pienaar, Dickanson, Myburgh, Van Heerden, Grobelaar, Edwards, Van Zyl, Venter, Coetzee, Schlebusch, om net 'n paar vanne te noem, ensovoorts. EER JOU VADER EN JOU MOEDER, is ook op die monument geskryf.
Sterk identiteitsbewussyn
Ja, daar is 'n straat in Comodoro Rivadavia wat "Colonos Sudafricanos" genoem is. Dit is Spaans en beteken "Suid-Afrikaanse Nedersetters". Hierdie straat het net 'n klein rukkie gelede van naam verander, en gelukkig herdenk hierdie straat nou die Suid-Afrikaners. Die mense wat in daardie straat woon het self vir die munisipaliteit om naamsverandering gevra. Baie van hulle is mos Afrikaners.
Teenswoordig hou die boeregemeenskap vas aan sy tradisies. Die Argentynse Boere teel skape, hulle kook nog Suid-Afrikaanse geregte, hulle behoort aan die Nederduits Gereformeerde Kerk en hulle sing met nostalgie en geesdrif baie liedjies, soos Sarie Marais, Tannie met die rooi rokkie, en Suikerbossie. Soos gesê praat die meeste mense van 45 jaar en ouer nog vlot Afrikaans, jonk en oud eet nog biltong en talle ander tradisionele kos, maar hulle het ook ontvankelik geblyk vir baie Argentynse kenmerke soos die Argentynse mate, of die woordjie 'che', wat 'n mens gebruik wanneer jy praat met 'n vriend. Party Boere het in 1982 in die Falkland (Malvinas) oorlog geveg, weer eens teen die Engelse, en hierdie keer onder die vlag van hulle nuwe nasie, Argentinië. Hulle het met hul kinders en kleinkinders gehelp aan die ontwikkeling van die suide van Argentinië, in die onbekende en onontginde Patagonia, waar hulle nooit hoop opgegee het nie.
LAURIK INTERNATIONAL
Email: laurik@laurik.com.ar
Skype: laurikinternational
MSN: laurik.com.ar@hotmail.com
laurik@ laurik.com.ar
Tel: +54 11 5941 9637
Cel: +549 11 6274 5888
Cel: +549 11 6858 1982
Druk



