Laurik International
Kultuur in die buiteland - Wat is reg?
Moet 'n mens altyd Suid-Afrikaans bly al woon jy in die buiteland? Moet 'n mens jou nuwe kultuur met altwee hande aangryp en dit jou eie maak?
Ek besef dat hierdie nie 'n baie maklike vraag is om te beantwoord nie want daar is soveel redes as lesers vir elke moontlike opsie. Om hierdie rede gaan ek kortliks, en redelik oppervlakkig, my eie opinie hier gee en ek hoop dat die lesers my sal vergewe as julle nie saamstem nie en vry sal voel om julle eie standpunte met ons te deel.
Soos julle seker kan aflei woon ek tans in Argentinië en die kultuur, alhoewel baie dieselfde en baie gemaklik, is beslis anders as Suid-Afrika, so wat doen 'n mens? My gevoel is dat 'n mens 'n bietjie van albei moet respekteer en met die tyd saam seker maak waar jou hart lê. Ek voel dat 'n mens nie kan en nie moet ontken en verraai wie jy is nie. Ek is 'n Suid-Afrikaner en sal altyd een bly maar ek woon nou al 10 jaar hier in Argentinië en as ek nie hierdie wonderlike nasie se kultuur aanvaar nie is ek meer as ondankbaar en beslis nie normaal nie. Vir my gaan die saak eerder as kultuur oor geloof en kan 'n mens wat kultuur aanbetref albei base ewe veel eer sonder om soos die Bybel sê tussen God en Mammon te moet kies.
Ek voel dat die geleentheid wat ek het om aan altwee kulture te kan deel verrykend is vir my as mens en dit moontlik maak om na albei nasies aan die kuste van die suid Atlantiese oseaan te kyk met ander oë wat toe laat dat 'n mens meer objektief kan wees en dinge kan sien wat jy nie maklik sal verstaan as jy in die middel daarvan is nie.
En natuurlik gee dit 'n mens aansienlike vryheid wanneer jy bv. 'n spesifieke sportsoort ondersteun en vir albei spanne kan ondersteun. (Dit is natuurlik behalwe rugby -die dag moet nog kom wat ek vir die Pumas teen die Springbokke ondersteun)
En die taal is natuurlik nog lekkerder aangesien 'n mens hier Spaans praat wat jou toe laat om met 'n hele kontinent se mense te kan kommunikeer en Afrikaans kan gebruik wanneer jy nie wil hê dat almal moet weet wat jy sê nie. Dit werk ook andersom wanneer ek 'n bietjie 'n draai gaan maak daar in "África" soos die mense hier van Suid-Afrika praat sonder om regtig te weet waar dit is.
Eerlikwaar weet ek nie of dit wat ek hier geskryf het die vraag antwoord nie maar ek glo dat hierdie woorde 'n bietjie lig op hierdie moeilike saak geskyn het.
Groete en tot volgende keer.
LAURIK INTERNATIONAL
Email: laurik@laurik.com.ar
Skype: laurikinternational
MSN: laurik.com.ar@hotmail.com
laurik@ laurik.com.ar
Tel: +54 11 5941 9637
Cel: +549 11 6274 5888
Cel: +549 11 6858 1982

Druk



